Foto: Donna Lewis
Dié tert het al sy verskyning in baie gedaantes gemaak. Dis my staatmaker! Die kors is soos my ma altyd die koekiekors vir haar yskastert gemaak het. Ek gebruik egter klapper in plaas van koekies.
Genoeg vir 6 persone
150 g (500 ml) fyn klapper
105 g (125 ml) strooisuiker
55 g (60 ml) botter
2 eierwitte
125 ml room
200 g donker sjokolade, fyngekap
175 g bessies van jou keuse
25 g (60 ml) kakaopoeier
Verhit die oond tot 200 ̊C. Meng die klapper, suiker, botter en eierwitte in ’n groot mengbak. Dit moet soos klam seesand lyk. Spuit ’n 30 cm-losboomtertpan goed met kleefwerende kossproei en skep die klappermengsel daarin. Versprei dit eweredig met jou vingerpunte en druk vas. Bak 10–12 minute of tot goudbruin. Terwyl die kors bak, bring die room tot kookpunt, gooi dit oor die gekapte sjokolade en roer tot glad. (As die sjokolade weg van die hitte af nie heeltemal wil smelt nie, roer dit oor lae hitte tot ’n gladde sous.) Gooi in die kors en strooi die bessies bo-oor. Plaas vir sowat 15–20 minute in die yskas om te stol. Sif kakao oor en pak in of sit voor.