Foto: Michael le Grange
Vir my is geen Kerstafel voltooi sonder ham nie, en jy kan nooit genoeg resepte daarvoor hê nie! Die lekkerte van hierdie ham is die kruisementmosterd waarmee ons dit voorsit – maar alles met ’n kortpad.
Genoeg vir 10-12
1 groot gerookte ham (gammon), met been en vel aan (die een op die foto, was 4 kg)
2 uie, geskil en gehalveer
4 lourierblare
10 swartpeperkorrels
’n hand vol heel naeltjies
GLASUURSEL
1 x 500 g-fles heuning 60 ml korrelmosterd 500 ml lemoensap
MOSTERD
250 ml gekoopte soetmosterd 4 takkies kruisement
Plaas ham in groot kastrol. Voeg ui, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Kook 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 4 kg-ham het 31⁄2 uur lank gekook.) Haal ham versigtig uit water en trek vel af terwyl nog warm, sodat die vetlaag wys. Plaas ham in oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes om ’n diamantpatroon in die vetlaag te sny. Druk ’n naeltjie in elke diamant. (Jy kan dit alles doen die dag voor jy die ham gaan voorsit.
Glasuursel Verhit oond tot 180 ̊C. Plaas al die bestanddele in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Laat prut 1 minuut en haal van hitte af. Gooi hele mengsel oor ham. Plaas ham oop in oond en rooster 30 minute of tot goudbruin. Skep elke 10 minute van die glasuursel in die pan oor.
Mosterd Plaas mosterd en kruisement in voedselverwerker en puree teen hoë spoed tot glad. Plaas gaar ham op opdienbord en sit voor met kruisementmosterd.