Foto: Donna Lewis
Hulle sê mos spyt kom te laat, maar jy glo dit nooit tot jy dit self ervaar nie. Vandag is ek baie spyt ek het nooit die resep vir my ma se kerrietjops by haar gekry nie. Ek het deur elke boek en elke nota gelees, maar dis nêrens te vinde nie. Wat ek wel weet, is dat sy goeie Kalahari-tjops gebruik het. Of sy die marinade by die slaghuis gekoop het, sal ek nie weet nie, maar soos my ma my geleer het: As jy iets nie het nie, maak dit self! Die belangrikste van die resep is dat die vleis lank genoeg marineer en dat die kole waarop jy dit braai, lekker warm is!
genoeg vir 24 tjops
45 ml olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
1 cm vars gemmer, gerasper
60 ml matige kerriepoeier
2 lourierblare
750 ml witwynasyn
200 ml fyn appelkooskonfyt
30 ml koekmeel
30 ml water
24 lamstjops
Verhit die olyfolie in ’n groot pot tot warm. Voeg die uie, knoffel en gemmer by; roerbraai vir 2 minute. Voeg die kerriepoeier by en braai nog 1 minuut. Voeg die lourierblare, asyn en appelkooskonfyt by. Bring tot kookpunt en kook vir 2 minute. Meng die meel en water en voeg dit by die mengsel terwyl jy roer. Kook vir 5 minute. Pak die tjops in ’n plat vlekvryestaalbak (of kies ’n emaljebak wat nie met die suur in die marinade gaan reageer nie). Giet die marinade oor en sit in die yskas vir 24 uur (liefs langer, tot 3 dae). Kry jou kole lekker warm en braai die vleis tot goudbruin en gaar. Verf af en toe met die marinade. Skep die gaar tjops terug in die marinade en laat staan vir ’n paar minute in die oond. Sit voor.