Kekerertjie-lemmetjie-en-garnaalslaai

Foto: Donna Lewis


Die dag toe die Here seekos en sitrus geskape het, het Hy geweet dié twee bestanddele gaan eendag trou en soos geen ander kombinasie nie, mense se smaakkliere baie gelukkig maak. Hierdie slaai kan ’n hele maaltyd op sy eie wees.

Genoeg vir 6-8

45 ml botter
2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
24 steurgarnale, afgedop en skoongemaak
1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper
250 ml olyfolie
100 ml verjuice (suur groendruiwesap)
skil van 3 lemmetjies
sap van 1 lemmetjie
1 hand vol pietersielie, grof opgesny
2 x 410 g-blikke kekerertjies, gedreineer
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g slaaiblare van jou keuse

Verwarm die botter in ’n middelslagpot. Voeg die knoffel en garnale by. Roerbraai 8–10 minute of tot die garnale gaar is en begin verbruin. Hou eenkant. Kombineer die gemmer, olyfolie, verjuice, lemmet- jieskil en -sap in ’n middelslag-mengbak, voeg die piet- ersielie by en meng goed. Voeg die kekerertjies en gaar garnale by, geur baie goed met sout en peper, meng deur en laat 2 uur in die yskas marineer. Rangskik dit saam met die slaaiblare in ’n opdienbak en sit voor.