Maalvleis-keftas op koeskoes

Foto: Donna Lewis


Dié Midde-Oosterse vleisgereg is maklik om te maak en baie bekostigbaar. Gebruik vars speserye om seker te maak dit is smaakvol en geurig.

Genoeg vir 6 persone

400 g maalvleis
20 ml fyn koljander
1 hand vol vars koljander, gekap
10 ml fyn komyn
1 brandrissie, gekap
1 eier
sout en varsgemaalde swartpeper
6 hout-kebabstokkies
60 ml olyfolie
250 ml warm hoenderaftreksel 40 g (45 ml) botter
180 g (250 ml) koeskoes
Bulgaarse jogurt vir voorsit

Verhit die oond tot 200 °C. Plaas die maalvleis, fyn en vars koljander, komyn, rissie en eier in ’n middelslag-mengbak. Meng met ’n houtlepel tot goed gemeng. Geur met sout en peper. Verdeel die mengsel in 6 ewe groot porsies. Vorm elke porsie in ’n langerige wors van sowat 4 cm lank. Druk elke wors op ’n kebabstokkie en maak seker dit sit stewig vas. Verhit die olyfolie in ’n groot braaipan tot goed warm en braai die keftas aan weerskante tot goudbruin, sowat 3–5 minute per kant. Plaas in die warm oond om verder gaar te word terwyl jy die koeskoes maak: Bring die aftreksel en botter tot kookpunt. Plaas die koeskoes in ’n groot mengbak en gooi die warm aftreksel daaroor. Maak die bak met kleefplastiek toe en laat 5 minute staan. Roer met ’n vurk deur om los te maak. Skep op ’n opdienbord en sit die warm keftas bo-op. Sit voor met Bulgaarse jogurt.

WENK: Deur wat jy by jou aftreksel gooi, kan jy koeskoes ander geure gee. Probeer volgende keer ’n bietjie kaneel, fyngekapte brandrissie of selfs 1 hand vol fyngekapte vars koljander.