Foto: Michael le Grange
Hierdie vark-kebabs kan jy in die oond, op die stoof of oor die kole maak. Die geheim is die esdoringstroop, wat die vark ’n lekker soet karamelgeur gee.
Genoeg vir 6-8 persone
1.6 kg varklies, sonder vel, in blokkies gesny
8 kebabstokkies
250 ml esdoringstroop
150 ml water
15 ml fyn swartpeper
3 knoffelhuisies, baie fyn gekap
70 ml vissous
sap en gerasperde skil van
4 lemmetjies
KRUISEMENTSOUS
’n hand vol kruisement
120 ml olyfolie
50 g fyngerasperde parmesaankaas
sap en skil van 2 suurlemoene
45 ml witwynasyn
Ryg vleisblokkies op kebabstokkies – jy kan self besluit hoe baie jy op elke stokkie wil sit. Plaas stroop, water, peper, knoffel, vissous, en sap en skil van lemmetjies in middelslag-pot. Bring tot kookpunt en laat kook 2 minute. Laat afkoel tot koud. Pak kebabs in oondroosterbak, geur goed met sout en peper, en gooi stroopmengsel oor. Bedek bak met tinfoelie. Jy kan dit nou só in yskas marineer tot jy reg is om dit gaar te maak. Verhit oond tot 180 ̊C (en kry kole warm as jy dit wil braai). Rooster vark bedek vir 25 minute. Haal uit oond en braai oor warm kole vir 15–20 minute of tot goudbruin en bros; verf elke nou en dan met pansappe. (As jy dit in die oond braai, kan jy dit net oop rooster vir 15–20 minute.
Kruisementsous Plaas intussen al die sousbestanddele in voedselverwerker en puree teen hoë spoed tot gladde mengsel. Pak kebabs op mooi opdienbord en sit voor met kruisementsous.