Foto: Donna Lewis
Ek is dol daaroor om Oosterse smaakmiddels met ons eie bekende geure te meng. Dié resep is een so ’n geval. Sojasous het ’n sterk smaak en gee aan gewone hoender ’n buitengewone geur as jy dit oor die kole braai. Om seker te maak die hoender is heeltemal gaar, maak ek dit eers in die oond halfgaar voor ek dit vir ’n lekker rooksmaak oor die kole bruin braai.
Genoeg vir 6
750 ml laesout-sojasous
500 ml beesaftreksel
skil van 2 suurlemoene
4 knoffelhuisies
2 steranyspeule
1 stingel suurlemoengras
1 cm-stuk vars gemmer, geskil
6 dy-en-boud-hoender- porsies
kole vir braai
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die sojasous, aftreksel, suurlemoenskil, knoffel, steranys, suurlemoengras en gemmer in ’n groot pot. Bring dit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat 5–8 minute prut. Pak die hoenderporsies in ’n oondroosterpan en gooi die sous daaroor. Bedek met tinfoelie en sit vir 20 minute in die oond. Kry jou kole medium warm terwyl die hoender bak. Haal die hoender uit die oond, plaas in ’n toeklaprooster en geur goed met sout en peper (behou die pansappe). Braai dit sowat 5 minute met die velkant na onder. Draai om en verf met pansap. Herhaal tot die hoender goudbruin en gaar is. Plaas op ’n opdienbord en bedruip met nog ’n bietjie sous. Sit warm voor.