Foto: Donna Lewis
Hoendersop is trooskos wat jou binne minute van binne warm maak. In hierdie resep gebruik ek winkelhoender omdat dit reeds vol smaak is en saam met die groente help om aan die sop ekstra geur te gee.
Genoeg vir 6
45 ml olyfolie
2 uie, gekap
4 knoffelhuisies, gekap
1 x 250 g-pakkie spek, grofgesny
15 ml komynsaad
4 wortels, in ringe gesny
2 stingels seldery, gekap
4 preie, in ringe gesny
1 x 410 g-blik kersietamaties
1 liter hoenderaftreksel
4 takkies tiemie
2 lourierblare
1 groot gaar winkelhoender
1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer en afgespoel
sout en varsgemaalde swartpeper
Verwarm die olyfolie in ’n groot kastrol en voeg die uie, knoffel, spek en komyn daarby. Roerbraai 2 minute. Voeg die wortels, seldery en preie by. Braai nog 5 minute. Gooi die tamaties en aftreksel by en meng deur. Voeg die tie- mie en lourierblare by. Plaas die hoender in die pot, sit die deksel op, bring tot kookpunt en laat 20 minute kook of tot die vleis van die bene wil afval. Verwyder die hoender uit die pot en vlok die vleis van die bene af. Plaas die vleis terug in die pot en meng deur. Voeg die bone by en meng deur. Proe, en geur goed met sout en peper. Sit warm voor.