Gebakte hoenderporsies met aartappelwiggies

Foto: Donna Lewis


Gemarineerde hoender oor die kole sal jou vriende vir seker vir nog laat vra. Gebruik jou gunsteling-marinade of probeer die een wat ek hieronder gee.

Genoeg vir 6 persone

125 ml soet sojasous
125 ml tamatiepuree
1 stuk duimnaelgrootte vars gemmer, fyngerasper
2 rooi brandrissies, fyngekap
80 ml olyfolie
sap en skil van 2 suurlemoene
6 dy-en-boud-hoenderporsies
sout en varsgemaalde swartpeper

Wiggies
8 aartappels, in wiggies gesny 45 ml olyfolie
2 takkies roosmaryn, fyngekap 4 takkies tiemie, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap

Kry allereers jou vuur aan die gang sodat jy lekker warm kole kan hê. Verhit ook jou oond tot 220 °C.

Meng die soja, tamatiepuree, gemmer, brandrissies, olyfolie en suurlemoensap en -skil saam. Plaas die hoenderporsies in ’n bak wat geskik is vir die mikrogolf en gooi die marinade daaroor. Geur goed met sout en peper. Mikrogolf 10 minute op hoog. Terwyl die hoender in die mikrogolf is, berei die aartappels: Plaas die wiggies in ’n oondbak en sprinkel die res van die bestanddele oor. Geur goed met sout en swartpeper. Bak 20–25 minute in die warm oond of tot goudbruin en gaar. Terwyl die aartappels bak, pak die hoenderporsies op ’n toeklaprooster en braai oor die kole tot gaar, sowat 10–15 minute of tot goudbruin en bros. Sit warm voor.

WENK: Ek maak die hoender halfgaar in die mikrogolf sodat dit die braaityd verkort. Sou jy meer tyd hê of dit so verkies, kan jy die hoender eers marineer en dit dan van die begin af oor die warm kole gaarmaak.