Foto: Donna Lewis
My ma was lief daarvoor om boontjie- en-ertjieslaai saam met ons braai voor te sit. Sy het altyd gesorg dat sy so ’n hand of twee vars bone vinnig in kookwater blansjeer voordat sy dit vir tekstuur en smaak bymeng.
Genoeg vir 6 persone
250 ml tamatiesous
160 ml sonneblomolie
45 ml worcestersous
100 ml blatjang
45 ml heuning
35 g (45 ml) bruinsuiker
6 dy-en-boud-hoenderporsies
sout en varsgemaalde swartpeper
Slaai
80 ml olyfolie
1 hand vol vars koljander, fyngekap
sap en skil van 2 suurlemoene
1 x 350 g-pakkie Franse groenbone, vir 1 minuut in kookwater gedompel
1 x 140 g-bakkie sneeu-ertjies (mangetouts), oorlangs dun gesny
1 x 200 g-pakkie suikerertjies (sugar snap peas), oorlangs gehalveer
sout en varsgemaalde swartpeper
Kry jou vuur aan die gang sodat jy lekker warm kole het vir wanneer jy reg is om die hoender te braai. Meng die eerste ses bestanddele saam vir die marinade. Plaas die hoender in ’n plat bak en gooi die marinade daaroor. Geur goed met sout peper en mikrogolf 10 minute op hoog om dit halfgaar te maak. Terwyl die hoender in die mikrogolf is, maak die slaai: Meng die olyfolie, koljander en suurlemoensap en -skil saam. Plaas die bone en ertjies in ’n slaaibak en gooi die slaaisous daaroor. Geur na smaak met sout en peper. Meng goed deur. Plaas die hoenderporsies op ’n toeklaprooster en braai sowat 5–8 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Sit voor met die boontjie-en-ertjieslaai.
WENK: Ek maak die hoender halfgaar in die marinade om die braaityd te verkort. As jy verkies om dit lank en stadig oor die kole te braai, kan jy dit natuurlik doen. Om te toets of die hoender gaar is, druk ’n skerp messie in die dikste deel van ’n porsie in. As die sappe wat uitloop helder is, is die vleis gaar.