Foto: Donna Lewis
Wie ken nie jafels nie? Dis die basaar- pastei van ons tyd! Koop by jou supermark klaargaar hoenders en vlok die vleis van die bene af.
Genoeg vir 6 persone
1 groot gaar hoender
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
80 ml mayonnaise
1 x 125 ml-bottel geroomde peperwortel (horseradish cream)
sout en varsgemaalde swartpeper
12 snye witbrood
75 g (80 ml) botter
Vlok die hoender van die bene af en breek in kleiner stukkies. Voeg die ui, knoffel, mayonnaise en peperwortel by en meng. Geur goed met sout en peper. Smeer die broodsnye aan die een kant liggies met botter. Skep die vulsel op die ongesmeerde kant van die helfte van die brood en plaas die orige snye bo-op, gesmeerde kant na buite. Verhit die jafelpan op ’n warm plaat. Plaas ’n toebroodjie daarin en maak toe. Sny brood wat oorhang met ’n skerp mes af. Braai sowat 3–5 minute per kant of tot goudbruin. Pak in papiersakkies. Herhaal met die res van die broodjies.
WENK: Gee jou jafel ’n kaashart wat uitloop met elke happie. Plaas ’n sagte mozzarella-kaasballetjie in die middel van die vulsel en rooster die broodjie soos gewoonlik.