Oondgebakte hoenderkerrie

Foto: Donna Lewis


My vriende is altyd baie verbaas as hulle onverwags instap vir ete en ek sê ek gaan vir ons hoenderkerrie maak; almal dink dis dae se harde werk en moeite. Die geheim is om jou speserye goed te braai. Koop speserye in klein hoeveelhede aan en ongemaal; jy wil hê dit moet die maksimum geur bevat. So, hoe varser, hoe beter.

Genoeg vir 6 persone

45 ml olyfolie
40 g (45 ml) botter
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml heel komynsaad
20 ml fyn koljander
30 ml heel vinkelsaad
3 lourierblare
6 kardemompeule, oopgebreek 30 ml masala
20 ml borrie
1 x 200 g-blik tamatiepasta
1 x 400 ml-blik klappermelk
300 ml tamatiepuree
6 dy-en-boud-hoenderporsies sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 220 °C. Verhit die olyfolie en botter in ’n middelslagpot tot goed warm – ek gebruik ’n 30 cm-pot sodat die vleis minder bo-op mekaar lê en gouer gaar word. Voeg die ui en knoffel by en roerbraai 2 minute of tot dit begin verbruin. Voeg al die speserye by en verlaag die hitte. Roerbraai 5 minute of tot lekker geurig. As dit lyk of die speserye wil begin brand, gooi ’n klein bietjie water by. Voeg die tamatiepasta by en braai nog 1 minuut. Voeg die klappermelk en tamatiepuree by. Laat weer opkook en plaas die rou hoenderporsies in die sous. Geur goed met sout en swartpeper en plaas oop in die warm oond. Bak 20–25 minute of tot die hoenderporsies goudbruin en gaar is.

WENK:
Jy kan die kerrie natuurlik ook met lamsvleisblokkies of kort skenkels maak. Dit sal ’n klein bietjie langer neem om sag te kook.