Foto: Donna Lewis
Hoender en suurlemoen is natuurlike pasmaats. Jy kan die jogurt met karringmelk vervang en die sosaties in ’n warm riffelpan braai as jy nie vuur wil maak nie.
Genoeg vir 6 persone
6 takkies tiemie, fyngekap
1 hand vol vars Italiaanse pietersielie
4 knoffelhuisies, fyngekap
1 ui, fyngekap
250 ml Griekse jogurt
sap en skil van 2 suurlemoene
8 hoenderborsies, in groot stukke gesny
8 hout-kebabstokkies
sout en varsgemaalde swartpeper
400 g vars aspersies
45 ml olyfolie
1 suurlemoen, gehalveer
Meng die tiemie, pietersielie, knoffel, ui, jogurt en suurlemoensap en -skil saam. Ryg die hoenderstukke op die kebabstokkies. Plaas in ’n plat bak en geur met sout en swartpeper. Gooi die marinade oor. Dompel die aspersies vir 2 minute in kookwater en dreineer. Kry die kole reg tot medium warm. Plaas die hoenderkebabs op ’n rooster en braai sowat 5–6 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Wanneer die hoender byna gaar is, plaas die aspersies op die rooster en verf dit met olyfolie. Geur met sout en peper. Braai 2–4 minute. Verwyder van die hitte en druk die suurlemoensap daaroor uit. Sit voor saam met die gaar kebabs.
WENK: Week jou kebabstokkies in warm water so 30 minute voor jy die hoender daarop ryg. Dit voorkom dat die stokkies te veel brand wanneer jy die vleis braai.