Heuningpatatslaai

Foto: Donna Lewis


Daar is min dinge so lekker soos soetpatats wat met baie botter en suiker stadig gestowe is. Pleks daarvan om dit te stowe, kan jy klein patats ook met baie botter en heuning in die oond bak – dis minder moeite en smaak net so lekker. Ek sit dit koud voor as slaai of bykos by snoek oor die kole.

Genoeg vir 6-8

8 klein patats
60 ml heuning
4 knoffelhuisies, grofgekap
55 g (60 ml) botter, gesmelt
4 stingels tiemie
45 ml olyfolie
20 ml fyn kaneel
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g pekanneute
80 g slaaiblare van jou keuse
250 ml crème fraîche

Verhit die oond tot 180 °C. Skrop die patats onder lopende water en sny dit in 2 cm breë ringe. Pak die ringe met die snykant na bo in ’n groot oondroosterbak. Meng die heuning, knoffel, botter, tiemie, olyfolie en kaneel saam en gooi dit oor die patats. Geur goed met sout en peper. Bedek die bak met tinfoelie, plaas in die warm oond en bak die patats tot sag en gaar, sowat 20–25 minute. Verwyder die foelie en bak nog 5 minute tot mooi goudbruin. Laat afkoel tot louwarm. Rooster die pekanneute in ’n warm pan tot goudbruin en kap grof op. Plaas die slaaiblare in ’n opdienbak en skep die patatskywe bo-op. Besprinkel met pekanneute en skep die crème fraîche oor. Sit voor.

Maak die heel maklikste stowepatats só (ek het dit by my kosmentor en vriendin Barbara Joubert geleer): Smelt 150 g (165 ml) botter en 165 ml heuning saam in ’n groot pot. Skil 4 groot patats en plaas dit in die bottermengsel. Skud die pot rond om die patats heeltemal met die mengsel te bedek. Sit die deksel op en laat oor lae hitte stadig prut. Draai die patats elke nou en dan om. Haal die deksel af net voor hulle sag is en verhoog die hitte sodat die sous kan karamelliseer. Draai die patats baie versigtig om om alkant met karamel bedek te word. Sit heel en warm voor.