Groenbone gebraai met tamatie en spek

Foto: Donna Lewis


Dit is ’n bykos waarvoor ’n koning sal vra. Ek is die koning van my huis – so, dié dis is altyd op die tafel as gaste oorkom!

Genoeg vir 6 persone

45 ml olyfolie
40 g (45 ml) botter
2 uie, in skyfies gesny
4 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 250 g-pakkie spek, grofgesny
400 g Franse groenbone, vir 1 minuut in kookwater gedompel
200 g aspersies, vir 1 minuut in kookwater gedompel
700 g kersietamaties, gehalveer
1 hand vol vars koljander, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die olyfolie en botter in ’n groot braaipan tot goed warm. Voeg die uie, knoffel en spek by. Roerbraai 5–6 minute of tot goudbruin. Voeg die groenbone, aspersies en tamaties by. Braai 5–8 minute of tot die groente warm is en die tamaties begin bars. Roer die koljander by. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

WENK: Gebruik ’n braaitang om die aspersies en groenbone tydens die braaiproses op te lig en om te draai. Jy kan dit ook makliker daarmee opdien.