Kortpad groen Thaise kerrie

Foto: Donna Lewis


Ek het eenkeer ’n kookklas in Thailand bygewoon waar hulle jou leer om groenkerriepasta te maak – dis baie werk. Mens kry gelukkig deesdae op supermarkrakke produkte wat nes dié smaak wat jy self maak. Die geheim is om goeie bestanddele saam met die winkelpasta te gebruik en altyd ’n hand vol fyngekapte koljander by te roer.

Genoeg vir 6 persone

45 ml olyfolie
1 ui, in repies gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 groen brandrissies, fyngekap
750 g ontbeende hoenderdye
1 x 80 g-pakkie groenkerriepasta
1 x 400 ml-blik klapperroom
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 140 g-bakkie sneeu-ertjies (mangetouts)
1 hand vol vars koljander, fyngekap
komynrys vir voorsit

Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en brandrissies by. Roerbraai 2–3 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die hoenderstukke by en braai nog 5 minute. Voeg die kerriepasta by en braai nog 1 minuut. Gooi die klapperroom by. Geur goed met sout en swartpeper en bring tot kookpunt. Kook oor medium hitte tot ’n dik, romerige sous vorm en die hoender gaar is. Voeg die ertjies en koljander by en roer deur. Sit warm voor met komynrys.