Foto: Donna Lewis
Die Italianers ken van lekker eet en lekker kos. Gnocchi is seker een van my gunstelinge uit dié land. Dit verg net ongelooflik baie tyd en moeite om self te maak. ’n Mens kry gelukkig deesdae klaargemaaktes wat baie lekker smaak. Die geheim is in die sous!
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
100 g pancetta- of spekblokkies
400 g gemengde sampioene, gehalveer
4 takkies tiemie, fyngekap
1 x 250 ml-houer room
500 g gnocchi
1 hand vol basiliekruid, grofgekap
100 g parmesaan, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olie in ’n groot pan tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en pancetta of spek by. Roerbraai 5–8 minute of tot die ui begin verbruin. Voeg die sampioene en tiemie by en braai nog 5 minute of tot die sampioene gaar is. Voeg die room by en verlaag die hitte tot ’n vinnige prut. Laat 5 minute prut of tot die sous lekker romerig is. Terwyl die sous prut, bring ’n pot water tot kookpunt. Gooi die gnocchi daarin en laat 8–10 minute kook of tot dit op die oppervlak van die water dryf. Dreineer. Voeg dit by die roomsous en meng deur. Voeg die basiliekruid en parmesaan by en roer deur. Geur goed met sout en peper. Sit warm voor.
WENK: As jy nie gnocchi kan kry nie, kan jy die sous saam met enige ander pasta soos penne of spaghetti gebruik.