Foto: Donna Lewis
Om jou eie gnocchi te maak is tydsaam en baie moeite. Jy kan semolina ook soos polenta gaarmaak, dit laat afkoel tot gestol en dit dan in botter goudbruin braai. Dis baie lekker!
Genoeg vir 6 persone
1 500 ml melk
200 g (220 ml) botter
360 g (500 ml) semolinameel
100 g (250 ml) parmesaankaas, gerasper
sout en varsgemaalde swartpeper
Sous
115 g (125 ml) botter
1 x 100 g-pakkie okkerneute
18 steurgarnale
1 hand vol vars salieblare
200 g-pakkie aspersies, vir 1 minuut in kookwater gedompel
Bring die melk en botter in ’n groot pot tot kookpunt. Gooi die semolinameel by terwyl jy met ’n draadklitser roer – dis soos wanneer jy pap maak. Hou aan roer tot gaar, sowat 5–8 minute. Verwyder van die hitte en roer die parmesaan by. Geur goed met sout en peper. Spuit ’n bakplaat met kleefwerende kossproei en keer die warm semolinamengsel daarop uit. Smeer gelyk tot sowat 1 cm dik. Laat afkoel tot gestol. Gebruik ’n 3 cm-koekiedrukker en sny ronde sirkels uit die gestolde semolina.
Maak die sous: Verhit die botter in ’n groot braaipan tot goed warm. Voeg die okkerneute, garnale en salie by. Braai 3–4 minute of tot die garnale begin verkleur. Pak semolinasirkels tussen die garnale en gooi die aspersies bo-op. Braai nog 5–6 minute of tot die garnale heeltemal gaar is. Geur goed met sout en peper. Sit warm voor.
WENK: Die semolina, ongestol, is ook ’n lekker bykos. Gooi ’n ekstra 250 ml melk
by om dit lekker romerig te maak. As jy nie semolina kan kry nie, kan jy polenta gebruik.