Gerooktesnoek-koekies met aïoli

Foto: Donna Lewis


Die supermarkte is deesdae vol klaar gerookte snoek. Dis baie geurig en maak die beste viskoekies. As jy dit egter nie kan kry nie, kan jy dit vervang met enige ander vis van jou keuse.

Genoeg vir 6 persone

1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
400 g gerookte snoek, fyngevlok
4 takkies tiemie, fyngekap
30 g (50 ml) koekmeel
2 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g broodkrummels
45 ml olyfolie
200 ml goeiegehalte-mayonnaise
2 suurlemoene, in wiggies gesny

Plaas die ui, knoffel, snoek, tiemie, meel en eiers in ’n middelslag-mengbak. Meng goed, geur met sout en peper, en verdeel die mengsel in 6 porsies. Vorm ronde balle en druk hulle effens plat. Doop elke koekie in broodkrummels. Verhit die olyfolie in ’n braaipan tot goed warm, oor hoë hitte. Braai die koekies sowat 3–5 minute per kant of tot goudbruin en bros. Sit voor met mayonnaise en suurlemoenwiggies.

WENK: Maak jou eie mayonnaise só: Plaas 2 eiergele in ’n mengbak en voeg 15 ml Dijon-mosterd en die sap en skil van 1 suurlemoen by. Klits die mengsel met ’n elektriese hand- klitser terwyl jy 250 ml kanola-olie in ’n dun straaltjie bygooi. Hou aan klits tot dik en romerig. Geur baie goed met sout en peper. Moet nooit olyfolie vir mayonnaise gebruik nie – dit het ’n sterk geur en kan die mayonnaise bitter laat smaak. Kanola is ’n olie met ’n baie neutrale smaak – en gesonder!