Foto: Donna Lewis
Die eerste keer dat ek gerookte aartappels geproe het, was terwyl ek vir sjef geleer het aan The Institute of Culinary Arts in Stellenbosch. Een van my medestudente het aartappels gerook en kapokaartappels daarvan gemaak. Ek kan tot vandag toe nog daardie romerige dis met sy ligte rooksmaak proe. Ek het besluit om dit tot slaai te verwerk. Die resep mag dalk na ’n mondvol klink maar is, glo my, baie maklik om te maak.
Genoeg vir 6
1 x 700 g-sakkie baba-aartappels
250 ml houtskaafsels – te kry by jou supermark se ysterwareafdeling
45 ml olyfolie
200 g pancetta- of spekblokkies
1 ui, baie fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
250 ml mayonnaise
125 ml jogurt
1 hand vol pietersielie, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
Skil die aartappels en kook dit tot sag en gaar, sowat 12–15 minute. Dreineer en laat afkoel. Voer die onderkant van ’n pot met foelie uit en sprinkel die houtskaafsels daarop. Plaas ’n afkoelrakkie oor die skaafsels en die aartappels daar bo-op. Sit die deksel stewig op om die pot dig te verseël en laat oor matige hitte staan tot rook by die deksel begin uittrek. Verwyder die pot dan van die hitte en laat die aartappels 40 minute rook. Moenie die pot voor die tyd oopmaak nie. Verwarm die olyfolie in ’n groot braaipan en voeg die pancetta of spek daarby. Braai 5–8 minute of tot goud- bruin en bros. Plaas in ’n mengbak en voeg die ui, knof- fel, mayonnaise, jogurt en pietersielie by. Meng goed saam. Voeg die gerookte aartappeltjies by en meng liggies deur. Geur met sout en peper, en sit voor.