Foto: Donna Lewis
Sampioene is soos ’n spons en absorbeer elke bietjie smaak wat jy daarby voeg. Maak sommer baie van dié een en hou dit in jou yskas vir nood-etes!
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
40 g (45 ml) botter
625 g gemengde sampioene
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 350 g-pakkie Franse groenbone, vir 1 minuut in kookwater gedompel
100 ml witwynasyn
15 ml bruinsuiker
2 tiemietakkies
sap en skil van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie en botter in ’n middelslag-braaipan tot goed warm. Voeg die sampioene en knoffel by. Braai 8–10 minute of tot goudbruin en halfgaar. Gooi in ’n groot mengbak en voeg die groenbone by. Bring die asyn, suiker, tiemie en suurlemoensap en -skil tot kookpunt in dieselfde pan waarin die sampioene gebraai is. Gooi dit oor die sampioene en meng deur. Geur goed met sout en peper. Laat afkoel tot kamertemperatuur en sit voor.
WENK: Gemarineerde sampioene sal tot ’n week lank in jou yskas hou. Bêre dit in ’n lugdigte houer. Jy kan ook blokkies feta bymeng vir ekstra smaak en tekstuur.