Gebraaide preie met roomsous

Herman Lensing


Preie kry nie altyd die aandag wat hulle verdien nie, maar wag tot jy sien hoe lekker hierdie eenvoudige bykos is.

Genoeg vir 6-8

hout of kole vir braai
1 knoffelhuisie
6 ansjovisfilette
5 ml Dijon-mosterd
2 eiergele
130 ml olyfolie
30 g parmesaan, gerasper
50 g haselneute, gerooster tot bruin in warm pan
sout en varsgemaalde swartpeper
12 groot preie
60 ml olyfolie
sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
vars kruie vir garnering

Kry jou vuur en sy kole rooiwarm. Teen die tyd dat jou sous klaar gemaak is, sal jou kole reg wees vir braai.
Plaas intussen knoffel, ansjovis, mosterd, eiergele, olie en parmesaan in voedselverwerker se beker (jug blender) en verwerk teen hoë spoed tot gladde sous vorm.
Gebruik skerp mes en halveer preie in lengte. Plaas in braaibak en sprinkel olyfolie, sap en suurlemoenskil oor. Geur goed met sout en peper.
Pak preie in toeklaprooster en braai oor warm kole sowat 15 cm van kole af tot goudbruin aan weerskante, sowat 8-10 minute. Plaas op dienbord.
Skep lepelsvol van die sous oor. Sprinkel neute oor. Garneer met vars kruie en sit voor.