Gebraaide mielies met drie geure botter

Foto: Donna Lewis


Mielies is goedkoop en baie vullend. Kook dit halfgaar en braai dit dan lekker bruin oor warm kole.

Genoeg vir 6 persone

300 g (325 ml) sagte botter
2 knoffelhuisies, fyngekap
sap en skil van 2 suurlemoene
1 hand vol sagte kruie, fyngekap (tiemie, origanum en Italiaanse pietersielie)
30 g parmesaan, fyngerasper
3 rooi brandrissies, fyngekap
18 mielies
olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper

Verdeel die botter in drie gelyke dele. Meng die knoffel en suurlemoensap en -skil by een deel, die kruie by ’n ander deel, en die parmesaan en brandrissies by die res. Hou eenkant. Bring ’n pot water tot kookpunt en gooi die mielies daarin. Kook 5–8 minute of tot sag en amper gaar. Verhit ’n riffelpan tot baie warm – rook moet letterlik daaruit trek. Smeer die mielies met olie en braai sowat 5 minute per kant of tot braaimerke wys. Geur goed met sout en peper. Sit voor met die botters.

WENK: Jy kan die mielies natuurlik ook oor warm kole in ’n toeklap- rooster braai. Smeer die mielies steeds met olyfolie. Geur met sout en peper voor jy dit braai.