Foto: Donna Lewis
Hierdie gereg verskyn gereeld in die middel van die week op my tafel. Dis lekker vinnig om te maak en absoluut heerlik. Forel is ’n delikate, effens olierige vis met ’n fyn tekstuur wat maklik vlok. Dis een van die lekkerste visse wat daar is, maar as jy dit nie in die hande kan kry nie, kan jy enige ander soort gebruik.
Genoeg vir 6
300 g forelfilette
sout en varsgemaalde swartpeper
1 hand vol koljander, fyngekap
80 ml taai sojasous
60 ml olyfolie
1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngekap
ekstra koljander vir opdiening
Suurlemoen-koeskoes
350 g (500 ml) koeskoes
500 ml hoender- aftreksel
45 ml botter
200 g swartolywe, ontpit en grofgekap
3 wiele fetakaas, gekrummel
1 ingemaakte suurlemoen, fyngekap
sap en skil van 1 suurlemoen
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die forelfilette velkant na onder op ’n kleefvrye bakplaat. Geur baie goed met sout en peper. Meng die koljander, sojasous, olie, gemmer en knoffel. Smeer die filette aan die bokant daarmee, plaas in die warm oond en bak 15–20 minute of tot gaar en goudbruin. Haal uit die oond en hou eenkant.
Berei die koeskoes só: Plaas die koeskoes in ’n glasmengbak. Bring die aftreksel en botter tot kookpunt, gooi dit oor die koeskoes en meng deur. Maak die bak met kleefplastiek toe en laat sowat 15 minute staan tot al die aftreksel geabsorbeer is. Roer die koeskoes met ’n vurk om die korrels los van mekaar te maak. Voeg die olywe, feta, ingemaakte suurlemoen en vars suurlemoensap en -skil by. Geur goed met sout en peper en skep op ’n opdienbord.
Vlok die vis in growwe stukke en pak dit bo-op die koeskoes. Garneer met vars koljander en sit voor.
WENK: Koue rysslaai is altyd ’n wenner in die somer en is ’n perfekte manier om van oorskiet ontslae te raak. Vervang dus gerus die koeskoes in dié resep met oorskiet- gaar rys.