Foto: Donna Lewis
Ek het op 'n besoek aan New York dié stad se heel lekkerste Franse roosterbrood gaan soek, en ek het geproe ... van tradisioneel dwarsdeur tot by hierdie een, my algehele gunsteling. In ’n klein restaurantjie met baie slegte koffie, maar die kombinasie van die mosterd, ham en sagte brood met sy broskors was eenvoudig hemels!
Genoeg vir 6
12 snye witbrood
60 ml sagte botter
60 ml Dijon-mosterd
12 repies parmaham (of enige ander ham van jou keuse)
300 g beleë cheddarkaas, gerasper
4 eiers
500 ml melk
60 ml olie vir braai
sout en varsgemaalde swartpeper
215 g agurkies vir voorsit
Smeer elke sny brood aan die een kant met sagte botter en daarna ’n smeersel mosterd. (Jy kan ook net op die een helfte mosterd smeer as jy nie te veel wil opsit nie.) Plaas die hamrepies op die een helfte van die snye brood met die kaas bo-op. Maak die broodjies toe met die ander snye brood – mosterd en botterkant na binne. Klits die eiers en melk saam in groot plat bak. Plaas die broodjies in die eiermengsel vir sowat 30 sekondes. Draai om en laat week verder vir nog 30 sekondes. Verhit intussen ’n bietjie olie in ’n kleefvrye braaipan tot warm. Braai die broodjies vir 1–2 minute per kant of tot mooi goudbruin en gaar.
Sit voor met agurkies of slaai van jou keuse