Foto: Donna Lewis
Ons moet, as ons vis koop, die keuse liefs laat val op iets uit ’n hernubare bron. Forel word deesdae kommersieel in Suid-Afrika geteel en is daarom nie ’n bedreigde spesie nie. Wees op die uitkyk vir kleintjies – hulle word vinnig gaar en lyk ook baie mooi.
Genoeg vir 6
75 g (80 ml) botter
1 hand vol pietersielie, fyngekap
4 knoffelhuisies, gekap
sap en skil van 2 suurlemoene
6 baba-forelle (of 2 grotes)
12 baba-vinkelknolle
sout en varsgemaalde swartpeper
Maak jou vuur en kry die kole warm. Meng die botter, pietersielie, knoffel en suurlemoensap en -skil saam. Smeer lepels vol van die botter in die buik van elke vis. Sodra jou kole reg is, plaas die vinkelknolle op ’n toeklaprooster en plaas die vis bo-op. Geur goed met sout en peper aan albei kante, en braai sowat 10–12 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor met aartappelsaai.