Foto: Donna Lewis
Maak die pakkies reeds voor jy werk toe gaan. Al wat jy dan hoef te doen, is om dit in die oond te druk sodra jou gaste opdaag. Maklik en vinnig.
Genoeg vir 6 persone
8 (410 g) baba-wortels
1 x 170 g-pakkie aspersies
500 g baba-aartappels, halfgaar gekook en in 3 gesny
6 x 200 g-forelporsies 55 g (60 ml) botter
1 stuk duimnaelgrootte vars gemmer, fyngerasper
2 rooi brandrissies, fyngekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
250 ml witwyn
Verhit die oond tot 220 °C. Sny 6 velle bakpapier van 40 x 40 cm groot en plaas op jou werkoppervlak. Verdeel die wortels in 6 porsies en plaas in die middel van elke vel. Verdeel die aspersies insgelyks en plaas bo-op die wortels. Pak aartappels bo-op die aspersies. Plaas ’n forelporsie bo-op elke bondel groente. Plaas ’n klein stukkie botter op elke vis. Strooi die gemmer, rissie en knoffel oor. Geur goed met sout en swartpeper. Vou twee kante van die papier na bo en begin dit aan die een kant bo-oor mekaar rol om ’n pakkie te maak. Hou aan rol tot daar ’n gaatjie van sowat 2 cm aan die een kant oop is. Gooi ’n klein bietjie wyn in die gaatjie en rol-vou die gaatjie toe. Plaas die pakkies op ’n bakplaat en bak 10–15 minute of tot die vis gaar gestoom is.
WENK: Jy kan die pakkies ook met tinfoelie maak. Gebruik enige groente wat in seisoen is – baba- vinkel, klein kooltjies en selfs jong spinasie werk lekker.