Gemarineerde feta-olyf-en-tamatieslaai

Foto: Donna Lewis


Somertyd in Upington, waar ek grootgeword het, het ons die soetste tamaties gekry. My ma het my geleer dat jy tamaties nooit in die yskas moet hou nie, want dis die op-die-tafel-tamaties wat stadig ryp word wat die lekkerste smaak.

Genoeg vir 6 persone

1 hand vol vars basiliekruid
80 ml olyfolie
30 ml balsamiese asyn
6 fetawiele
500 g gemengde olywe
1 kg gemengde tamaties, gehalveer
sout en varsgemaalde swartpeper

Meng die basiliekruid, olyfolie en asyn in ’n bakkie. Plaas die feta, olywe en tamaties in ’n mengbak en gooi die asynmengsel daaroor. Geur goed met sout en peper. Pak in of sit net so voor.

WENK: Het jy al gehoor van heirloom- tamaties? Dis tamaties waarvan die saadjies nog nooit geneties gemanipuleer is nie. Hulle is groot en onvolmaak in vorm. Die kleure kan wissel van groen tot geel en dieprooi. My ouma het altyd van dié tamaties as vleistamaties gepraat.