Foto: Donna Lewis
As daar ’n kortpad in die kombuis is om te vat, vat hom! Ek is nie skaam om winkeldeeg vir brood te gebruik nie. Die geheim is om dit by ’n hoë temperatuur te bak sodat dit ’n lekker goue kors vorm.
genoeg vir 6 persone
koekmeel vir uitrol
1 x 500 g-sakkie winkeldeeg
1 x 125 g-houer basiliekruidpesto
4 feta-wiele
4 klein rooiuie, geskil
45 ml olyfolie
growwe seesout
Verhit die oond tot 220 °C. Strooi ’n dun lagie koekmeel op jou werkoppervlak en keer die deeg daarop uit.
Druk die deeg plat met jou hande tot sowat 1 cm dik. Smeer basiliekruidpesto daaroor. Krummel feta oor die deeg.
Rol die deeg op tot ’n stywe wors. Spuit ’n 30 cm-ringkoekpan met kleefwerende kossproei. Druk die deegwors in die pan. Sny die uie in halwes en druk dit in die deeg in. Sprinkel die olyfolie en sout oor. Plaas in die warm oond en bak 25–30 minute of tot goudbruin en bros. Laat effens afkoel en keer uit. Sit louwarm voor.
WENK: Jy kan die basiliekruidpesto vervang met sondroëtamaties wat jy in olie koop. Puree die hele pakkie met olie en al tot ’n growwe mengsel en smeer dit oor die deeg.