Eskimo "pies"

Foto: Donna Lewis


As kind het ons party Sondae roomys-soene geëet wat my ma by die plaaslike roomyswinkel gekoop het. Later jare het ons Eskimo pies gekry, vanieljeroomys op stokkies wat in sjokolade gedoop is. Ek kan nog die blou verpakking met die wit skets van die Eskimo onthou. Hier is my kortpad-weergawe.

Genoeg vir 6 persone

1 x 360 g-blik karamelkondensmelk
1 liter vanieljeroomys
200 g donker sjokolade, gesmelt en effens afgekoel
growwe sout, fyngemaal

Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en plaas in die vrieskas. Skep ’n teelepel karamel in ’n roomyslepel en smeer die binnekant daarmee. Skep ’n bal roomys met dié lepel en plaas dit op die bakplaat in die vrieskas. Hou so aan tot al die roomys opgebruik is. (Die kondensmelk in die lepel gee die balle roomys ’n dun karamellagie.) Skep lepels vol sjokolade oor die roomysballe en strooi ’n bietjie sout daaroor. Laat in die vrieskas staan tot die sjokolade verhard het. Sit voor.

WENK: Gebruik altyd goeiegehalte- sjokolade met ’n hoë kakao-inhoud in geregte wat weer moet stol. Goedkoper sjokolade bevat baie vet en stol nie so goed as dit eers gesmelt het nie.