Ertjierisotto met sagte eiers

Foto: Michael le Grange


Vir my is hierdie die nommer een gereg wat sê liefde, ek het immers die liefde van my lewe gevang met 'n bak vol risotto!

Genoeg vir 6

45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 cm vars gemmer, fyngerasper
4 kasslersteaks, in klein blokkies gesny
380 g (500 ml) Spekko Royal Umbrella Jasmine Long Grain White Rice
125 ml droë witwyn
1 500 ml hoenderaftreksel
100 g (110 ml) botter
50 g parmesaankaas, fyngerasper, plus ekstra vir voorsit
200 g bevrore ertjies
sout en varsgemaalde swartpeper
45 ml wit asyn
6 eiers

Verhit olyfolie tot warm in groot pot. Voeg uie, knoffel, gemmer, blokkies vleis en rys by. Roerbraai vir 1-2 minute of tot die uie begin bruin raak. Voeg wyn by en roer tot weggekook. Giet 500 ml van die aftreksel by en meng deur. Plaas deksel op pot en laat kook vir 5 minute of tot rys al die vloeistof geabsorbeer het. Herhaal met res van aftreksel, 500 ml op ’n slag. Verwyder pot van hitte sodra al die vloeistof geabsorbeer is en voeg botter, parmesaan en ertjies by. Roer tot ’n romerige mengsel, proe en geur met sout en peper. Hou warm terwyl jy die eiers posjeer: Bring pot met asyn en water van sowat 3 cm diep tot kookpunt. Breek eiers een vir een in water en posjeer vir 2-3 minute vir sagte eiers of langer as jy die gele harder verkies. Skep risotto op dienbord. Plaas geposjeerde eiers bo-op en strooi ekstra parmesaan oor. Sit voor.