Eiervrug-caponata met bruschetta

Foto: Michael le Grange


Caponata is ’n koue bredie van die Italiaanse eiland Sisilië. Ek is mal hieroor, veral op ’n warm dag met goeie witwyn. Hy smaak op sy beste as hy oornag gerus het.

Genoeg vir 6 persone

2 groot eiervrugte
45 ml olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
4 stingels seldery, gesny
20 ml vinkelsaad
10 kappertjiesade (capers)
60 ml witwynasyn
2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
80 ml heuning
1 x 170 g-sakkie groen olywe, grofgesny
6 vars basiliekruidblare
sout en varsgemaalde swartpeper
60 ml botter
125 ml (115 g) botter
12 snye ciabatta

Gebruik ’n skerp mes om eiervrugte in skywe van 1 cm breed te sny. Sny elke skyf in repies van 1 cm breed en elke reep dan in blokkies van 1 cm groot. Verhit olyfolie tot warm in groot pot. Voeg ui, knoffel, seldery en vinkel by. Braai sowat 5 minute stadig of tot seldery deursigtig raak. Voeg kappertjiesade en asyn by en laat die helfte van asyn afkook. Voeg tamaties, heuning en eiervrugblokkies by. Verlaag hitte en laat prut 10–15 minute (roer elke nou en dan) of tot vloeistof weggekook het en ’n romerige mengsel vorm. Verwyder van hitte. Roer olywe en basiliekruid by. Geur goed met sout en peper. Laat afkoel en plaas in yskas vir 24 uur. Verhit botter in braaipan en braai ciabatta-snye sowat 1-2 minute aan ’n kant tot goudbruin. Sit voor met caponata.