Foto: Donna Lewis
Daar is niks so bevredigend vir my as om vriende of geliefdes met ’n lekker nagereg te bederf nie. Vuurwarm uit die olie en met goeie koffie sal dit jou die beste gasvrou (of -heer!) maak. Die meeste doughnut- resepte gebruik gis, maar dié kortpad-een met bakpoeier smaak ewe lekker.
Genoeg vir 6 persone
250 ml melk
210 g (250 ml) strooisuiker
40 g (45 ml) botter, gesmelt
3 eiers
25 ml bakpoeier
5 ml fyn kaneel
700 g (1 250 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol
sonneblomolie vir diepbraai
vanieljesuiker
Plaas die melk, suiker, botter en eiers in die bak van ’n elektriese menger. Sif die bakpoeier, kaneel en koekmeel saam. Voeg dit by die melkmengsel en meng teen ’n medium spoed tot ’n stywe deeg. Sprinkel ’n dun lagie meel op jou werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Rol met ’n rolstok tot sowat 1,5 cm dik uit. Gebruik ’n 10 cm-koekiedrukker en sny sirkels uit die deeg. Gebruik ’n 2 cm-drukker en sny ’n gaatjie in elke deegsirkel. Verhit die olie tot goed warm (die olie is reg sodra jy ’n stukkie deeg daarin gooi en dit dadelik begin borrel). Braai die deegsirkels in die olie tot goudbruin en bros, sowat 5 minute per kant. Dreineer op handdoekpapier en rol in vanieljesuiker. Sit warm voor met espresso.
WENK: Moenie die olie te warm maak nie, anders gaan die doughnuts bruin braai voor dit gaar in die middel is. Dit moet stadig braai oor medium hitte. Jy kan die doughnuts ook in kaneelsuiker rol.