Foto: Donna Lewis
Dié Franse nagereg kan baie tyd en moeite kos. Ek hou eintlik net van die lekker goue bros karamel- lagie bo-op. Probeer dié een; dis baie maklik en eintlik glad nie crème brûlée nie, net brûlée!
Genoeg vir 6 persone
175 g bessies van jou keuse
500 ml goeiegehalte-vanieljevla
300 ml vrugtejogurt van jou keuse
105 g (125 ml) strooisuiker
1 x 250 ml-houer room, styfgeklop
Verdeel die bessies tussen 6 nageregglase van jou keuse – ek verkies om whiskeyglase te gebruik. Verdeel die jogurt tussen die glase. Vou die styfgeklopte room by die vanieljevla in en skep lepels vol van die mengsel bo-op die jogurt tot elke glas tot bo vol is. Sprinkel ’n bietjie strooisuiker oor die vla. Gebruik ’n kombuis-blaasvlam en brand die suiker tot dit ’n goudbruin karamel vorm. Sit voor.
WENK: Maak egte Franse crème brûlée so: Verhit die oond tot 140 °C. Klits 2 eiergele en 45 ml strooisuiker saam. Gooi 5 ml vanieljegeursel by. Bring 185 ml room tot kookpunt en gooi dit oor die eiergele terwyl jy roer. Verdeel die mengsel tussen 2 oondvaste 25 bakke met ’n volume van 250 ml. Plaas in ’n oondroosterpan en vul die pan met warm water. Bak 40–45 minute of tot gestol. Laat afkoel tot koud, sprinkel strooisuiker oor en brand bruin met ’n kombuis-blaasvlam.