Foto: Michael le Grange
As jy dit in lepels bak, is hierdie lekkerte nie net binne minute klaar nie, maar lyk dit ook baie deftig. Jy kan selfs lepels van verskillende groottes gebruik.
Genoeg vir 6 persone
4 eiergele
50 g (60 ml) strooisuiker
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap, of 5 ml vanieljegeursel
250 ml-houer room
100 g (125 ml) strooisuiker
Verhit die oond tot 140 ̊C. Voer ’n bakplaat met ’n afdroogdoek uit (om te keer dat die lepels rondskuif wanneer jy dit in die oond sit). Pak 18 eetlepels op die bakplaat – laat hul stele op die rand rus sodat die lepelholtes gelyk lê. Klits die eiergele en strooisuiker saam in ’n middelslag- mengbak. Voeg die vanielje by en meng goed. Bring die room tot kookpunt en voeg dit by die eiergele terwyl jy klits. Gooi die mengsel in ’n maatbeker en verdeel dit tussen die lepelholtes sodat elkeen ewe vol is. Plaas die bakplaat versigtig in die oond en bak vir 8–12 minute, of tot die brûlée soos jellie gestol is. Haal uit die oond en laat effens afkoel voor jy die bakplaat in die yskas sit om koud te word. Sprinkel ’n dun lagie strooisuiker oor elke lepel crème brûlée en gebruik ’n kombuisblaasvlam om dit bruin te brand. Sit voor