Foto: Donna Lewis
Die klassieke Franse crème brûlée vat baie lank om gaar te word. As jy dit in lepels bak, is dit nie net binne minute klaar nie, maar lyk ook baie deftig. Gebruik lepels van verskillende groottes om te sorg dat dié wat minder eet kleiner lepels vat, en andersom.
Genoeg vir 6 persone
4 eiergele 1 x 250 ml-houer room
50 g (60 ml) strooisuiker
100 g (125 ml) witsuiker
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap of 5ml vanieljegeursel
Verhit die oond tot 140 °C. Voer ’n bakplaat met ’n afdroogdoek uit – dit sal keer dat die lepels rondskuif wanneer jy dit oond toe neem. Pak 18 eetlepels op die bakplaat, maar laat die stele van die lepels op die rand van die bakplaat rus om te sorg dat die lepelholtes gelyk lê. Klits die eiergele en strooisuiker saam in ’n middelslag-mengbak. Voeg die vanieljesaadjies by en meng goed – natuurlik kan jy ook geursel gebruik, so 5 ml. Bring die room tot kookpunt en gooi dit
oor die eiergele terwyl jy klits. Gooi die mengsel in ’n maatbeker en verdeel dit tussen die lepelholtes. Maak hulle gelyk vol. Plaas versigtig in die oond en bak 8–12 minute of tot gestol soos jellie. Haal uit en laat in die yskas afkoel tot koud. Sprinkel ’n dun lagie suiker oor elke crème brûlée en brand bruin met ’n kombuis-blaasvlam. Sit voor.
WENK: Moeg vir konvensionele vanielje-crème brûlée? Volg die gewone bereidingsmetode, maar gooi die warm roommengsel oor 100 g fyngekapte donker sjokolade. Roer tot gesmelt en gooi dan oor die eiermengsel. Bak soos gewoonlik.