Foto: Donna Lewis
Die goedkoopste middel-van-die-week-ete waarmee jy baie mense kan kos gee. As jy hou van bone, is dit ’n moet-maak vir jou tafel! Sit voor met warm tortillas.
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
500 g beesmaalvleis
1 x 400 g-blik kersietamaties
1 x 200 g-blik tamatiepasta
2 rooi brandrissies, fyngekap
5 ml droë gemengde kruie
sout en varsgemaalde swartpeper
2 x 420 g-blikke rooibone, gedreineer
1 x 250 g-houer roomkaas vir voorsit
Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en maalvleis by. Roerbraai 5–8 minute of tot die maalvleis verbruin het. Voeg die tamaties, tamatiepasta, brandrissies en kruie by. Roer deur en kook tot ’n lekker dik vleissous, sowat 10–15 minute. Geur goed met sout en peper. Roer bone deur en bring weer tot kookpunt. Sit warm voor met lepels vol roomkaas.
WENK: Gebruik die vleissous om lekker nacho’s te maak: Koop ’n 250 g-sak nacho-tjips. Plaas dit in ’n oondvaste bak en skep die vleissous daaroor. Rasper 200 g cheddarkaas oor en bak onder die oond se roosterelement tot goudbruin. Sit voor met roomkaas.