Foto: Donna Lewis
Dié bederf is glad nie so duur soos ’n mens dink nie. Kyk by jou supermark se bevrorevis-afdeling. Ontdooi die calamari oornag in jou yskas binne-in ’n vergiettes. Natuurlik, as jy dit vars kan kry, soveel te beter!
Genoeg vir 6 persone
30 ml olyfolie
55 g (60 ml) botter
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 x 250 g-houer calamaribuise en -tentakels
1 hand vol salie
1 hand vol pietersielie, fyngekap
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 250 ml-houer crème fraîche
Verhit die olyfolie en botter in ’n mediumgroot-braaipan tot goed warm. Voeg die knoffel by en braai 1 minuut. Druk die calamari droog met handdoekpapier en gooi by. Braai 5–6 minute of tot goudbruin. Voeg die salie, pietersielie en suurlemoensap en -skil by. Geur goed met sout en peper. Skep lepels vol crème fraîche in 6 klein bakkies en smeer plat. Verdeel die calamari tussen die bakkies en sit voor.
WENK: Spoel calamari altyd onder lopende koue water in ’n vergiettes af en droog deeglik met handdoekpapier af om te verseker dit braai bruin.