Kersfees-Brusselse kool

Foto: Michael le Grange


Die gedagte aan Brusselse kool maak baie mense erg bang, maar as jy dit reg gaarmaak smaak dit baie goed.

Genoeg vir 6 persone

500 ml melk
2 lourierblare
45 ml botter
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 1 cm-stuk vars gemmer, gerasper
45 ml koekmeel
100 g parmesaankaas, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g Kersfees-droëvrugtemengsel
600 g-sakkie Brusselse kool

Bring melk en lourierblare tot kookpunt en laat tot kamertemperatuur afkoel. Verwyder lourierblare. Verhit botter tot warm in middelslag-pot, voeg knoffel en gemmer by en braai 30 sekondes. Voeg meel by en meng deur. Voeg melk op een slag by en roer met draadklitser tot gemeng. Hou aan roer oor lae hitte tot gladde sous vorm, sowat 3-5 minute. Voeg parmesaankaas by en roer tot glad. Geur goed met sout en peper. Voeg droëvrugtemengsel by en meng deur. Bring ’n pot met water tot kookpunt en dompel Brusselse kool in water. Kook 5-8 minute tot kool sag is, maar nie pap nie. Dreineer en plaas kool op opdienbord. Gooi sous oor en sit voor.