Bruinuiesop

Foto: Donna Lewis


Geen winter is winter sonder heerlike sop nie. Die grootste geheim van dié sop is om die uie met sorg en geduld lekker stadig te braai sodat al die geure kan loskom. En natuurlik kan jy die sop nie voorsit sonder brood met gesmelte gruyèrekaas nie.

Genoeg vir 6

50 g (55 ml) botter
2 knoffelhuisies, fyngekap
4 (600 g) bruin uie, in dun ringe gesny
35 g (60 ml) meel
250 ml witwyn
2 liter goeie beesaftreksel
5 takkies tiemie
2 lourierblare
sout en varsgemaalde swartpeper
1 Franse baguette, in skywe gesny
100 g gruyèrekaas, gerasper
vars basiliekruid vir garnering

Smelt die botter in ’n groot kastrol en braai die knoffel daarin tot sag en deurskynend. Voeg die uieringe by, verlaag die hitte en smoor 15–20 minute of tot die uie bruin en sag is. Dis belangrik om nie haastig te raak nie, want dis wat verseker dat die geure ten beste vrygestel word. Voeg die meel by en meng goed. Roer die wyn in en laat wegkook. Voeg die aftreksel, tiemie en lourierblare by. Verlaag die hitte en laat sowat 30 minute stadig prut of totdat die vloeistof met die helfte verminder het en die sop begin verdik. Geur goed met sout en peper en gooi die sop in ’n oondvaste opdienbak. Plaas die baguettesnye bo-op en bestrooi met die kaas. Plaas onder ’n warm oondrooster en verbruin dit tot die kaas gesmelt het. Garneer met basilie en sit warm voor met ekstra brood.