Foto: Donna Lewis
Jare lank moes ek altyd my ouma se bruinsampioensop uit ’n pakkie eet, en dit was eenvoudig aaklig! Nou kan ek nie genoeg van dié een kry nie – die geheim: aartappel as basis. Dit maak die sop romerig en gee dit genoeg woema om ook as hoofmaal te kan dien.
Genoeg vir 6 persone
55 g (60 ml) botter
3 sprietuie (spring onions), grofgekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
500 g gemengde bruin sampioene, grofgekap
4 aartappels, geskil en in blokkies gesny
500 ml hoenderaftreksel
3 takkies tiemie
1 x 250 ml-houer room
sout en varsgemaalde swartpeper
3 x 80 g-crottin-bokmelkkase, gehalveer
Verhit die botter in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die uie en knoffel by en roerbraai 1 minuut. Voeg die sampioene by en roerbraai nog 2 minute. Voeg die aartappels by en roerbraai ook 2 minute. Voeg die aftreksel en tiemie by en kook 15–20 minute of tot die aartappels sag en gaar is. Voeg die room by en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en geur goed met sout en peper. Puree die sop teen ’n hoë spoed met ’n stokmenger (stick blender) tot glad. Verhit die oond se roosterelement tot goed warm. Plaas die bokmelkkaashelftes met die gesnyde kant na bo op ’n bakplaat. Rooster 2–3 minute of tot dit begin smelt. Skep die sop in bakkies en sit voor met die bokmelkkaas.
WENK: Jy kan die bokmelkkaas vervang met enige ander kaas van jou keuse, soos brie of camembert. Die sop smaak ook ewe lekker sonder die kaas.