Resep: Bruinrys-en-koringrisotto

Foto: Michael le Grange


Hierdie resep was ’n eksperiment wat gewerk het en glo my dis erg heerlik. Die koring se tekstuur en alles wat saam met dit gaan, is regtig spesiaal. Sit dit voor vir daai spesiale weeksdag wat jy jouself wil bederf.

Genoeg vir 4-6

1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
200 g (250 ml) rou koring (Pearl Barley)
200 g rou SPEKKO SAMAN BROWN RICE
1 liter bees-aftreksel
100 g parmesaankaas, fyngerasper
115 g (125 ml) botter, in blokkies gesny
200 g boerbone (broad beans), gedompel in kookwater vir 1 minuut
olyfolie vir braai
sout en vars gemaalde swartpeper

Verhit ’n bietjie olyfolie in medium-grootte pot, dit moet ’n volume van 3 liter hê. Onthou, koring swel soos dit gaar word. Voeg uie, knoffel, koring en rys in pot en roerbraai vir 2 minute, of tot uie begin verbruin. Gooi aftreksel by en bring tot kookpunt. Kook vir 15-20 minute of tot koring opswel en sag, maar nie pap, is nie. Voeg parmesaan en botter by en roer tot romerige mengsel vorm. Verwyder van hitte. Proe en pas dan geur aan met sout en peper. Parmesaan kan soms sout wees so proe eers. Voeg bone by en meng deur. Sit warm voor.