My ma se bruinhoender – opgetof

Foto: Donna Lewis


Dis middel-van-die-week-kos dié soos net my ma dit kan maak. Ek gee die hoender nuwe smaak met korrelmosterd. Dis daai tipe kos wat jou troos as jy hartseer is, jou volmaak as jy honger is en die antwoord vir onverwagte gaste is.

Genoeg vir 6

8 hoenderstukke van jou keuse
8 baba-uie
4 knoffelhuisies, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper
60 ml korrelmosterd
20 ml fyn koljander
500 ml beesaftreksel
250 ml witwyn
4 takkies tiemie, gekap

Verhit die oond tot 180 °C. Pak die hoenderstukke in ’n groot oondrooster ̊pan. Halveer die uie en pak dit tussen die hoenderstukke. Sprinkel die knoffel oor. Geur goed met sout en peper. Meng die mosterd en koljander saam en smeer dit oor die hoender. Gooi die aftreksel en wyn by en sprinkel die tiemie oor. Bedek die pan met tinfoelie en bak 30 minute. Verwyder die foelie en bak nog 15–20 minute of tot die hoender goudbruin en gaar is. Sit voor met gebotterde groenbone (sien hieronder).

Groenbone word vinnig gaar en is heerlik met wit- pleks van swartpeper. Maak só: Dompel 400 g Franse groenbone vir 3 minute in kookwater – dis die kleinste van die groenboonsoorte. Dreineer. Verwarm 120 g (125 ml) botter in ’n groot braaipan. Voeg 2 gekapte knoffelhuisies by en braai 2–3 minute of tot die knoffel begin verbruin. Voeg die bone by. Geur baie goed met witpeper en sout. Braai nog 3 minute of tot die bone goed warm is.