Bros aartappels

Foto: Donna Lewis


Keer op keer as ek my gaste na hul asem wil laat snak, maak ek nie ’n fancy sjokoladekoek of baie duur sop nie, maar hierdie brosgebakte aartappels. Dis regtig maklik om te maak, en ek belowe jou, jy sal self nie genoeg daarvan kan kry nie. Die geheim is, mens maak die aartappels twee keer gaar: Jy kook dit eers in water en braai dit dan bros in kanolaolie. Heerlik!

Genoeg vir 6-8

16 groot aartappels
1 liter kanolaolie
8 stingels tiemie
3 stingels roosmaryn
6 heel knoffelhuisies
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 180 °C. Skil die aartappels en hou dié wat klaar geskil is in koue water om te voorkom dat hulle bruin raak. Plaas die aartappels in ’n pot, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 10 minute – niks langer nie. Dreineer en laat afkoel tot hanteerbaar maar nie koud nie. Krap diep groewe met ’n vurk se tande in die halfgaar aartappels. Doen dit reg rondom elke aartappel. Giet die kanolaolie in ’n groot oondroosterbak – die olie moet sowat 2 cm hoog in die bak wees. Voeg die tiemie, roosmaryn en knoffel by. Plaas die bak vir 15 min- ute in die warm oond of tot olie baie warm is. Haal dit dan versigtig uit en pak die halfgaar aartappels daarin. Plaas terug in die oond en bak sowat 10–15 minute per kant of tot die aartappels goudbruin en bros is. Haal uit die oond, dreineer op kombuispapier, geur baie goed met sout en peper, en sit voor.