Kerrie-botterskorsiesop

Foto: Donna Lewis


My ma se staatmaker as sy gaste vir ete oorgenooi het – dis die meeste wintersaande ook myne! Dankie, Ma!

Genoeg vir 6 persone

15 ml olyfolie
15 g (15 ml) botter
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml kerriepoeier
5 ml fyn neut
500 g botterskorsie, geskil en grofgekap
1,5 liter hoenderaftreksel
sap en gerasperde skil van 1 lemoen
1 x 250 ml-houer room
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die olyfolie en botter in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en speserye by. Roerbraai tot dit begin verbruin, sowat 3–4 minute. Voeg die botterskorsie by en braai nog 3 minute. Gooi die aftreksel en lemoensap en -skil by. Bring tot kookpunt en laat 15–20 minute kook of tot die botterskorsie sag en gaar is. Voeg die room by en bring weer tot kookpunt. Puree met ’n elektriese stokmenger (stick blender) tot ’n gladde sop. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

WENK: Jy kan die sop in groot maat maak en bevries. Ek doen dit gewoonlik in porsiegrootte bakkies. So kan ek vinnig net een ontdooi as ek iets soek om my te troos