Soort van boeuf bourguignon

Foto: Donna Lewis


Dié Franse dis word tradisioneel met beesvleis gemaak. Ek kies kortpad met lamsboudblokkies wat vinnig gaar word. Gebruik ’n groot pot sodat die vleis in ’n dun laag in die sous kan lê – so word dit vinniger gaar.

Genoeg vir 2 persone

60 ml olyfolie
4 knoffelhuisies, fyngekap
1 ui, fyngekap
2 wortels, in ringe gesny
1 x 250 g-pakkie spek, grofgesny
1,5 kg lamsboudblokkies
750 ml rooiwyn
2 takkies roosmaryn, fyngekap
300 g klein uitjies
250 g wit sampioene
30 ml koekmeel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die oond tot 220 °C. Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die knoffel, ui, wortels en spek by. Roerbraai 5–6 minute of tot die ui begin verbruin. Voeg die lamsblokkies by en braai nog 5 minute. Gooi die wyn, roosmaryn, uitjies en sampioene by. Roer die meel deur. Geur goed met sout en peper. Plaas die pot oop in die warm oond en bak 20–25 minute of tot ’n lekker dik sous vorm. Sit warm voor.

WENK: Ons eet te veel stysel, daarom bevat hierdie hoofgereg glad nie stysel nie. Maar as dit moet, sny baba-aartappels in kwarte en sit dit saam met die wortels in die sous.