Soort van bobotie met heuningperskes

Foto: Donna Lewis


Jy kan my in ’n wip vang met bobotie. Ek is versot daarop en maak dié een gereeld. Ek braai nie my vleis soos die meeste mense nie, want dis onnodige werk. Die vleis bak saam met die vla gaar. Die perskes is my weergawe van anderste blatjang.

genoeg vir 6

45 ml olyfolie
2 uie, grofgekap
2 knoffelhuisies, gekap
15 ml masala
15 ml fyn koljander
30 ml kerriepoeier
5 ml borrie
1 kg beesmaalvleis
1 x 400 g-blik kersietamaties
sout en varsgemaalde swartpeper
4 lourierblare
50 ml melk
3 eiers
6 perskes, gehalveer en pitte verwyder 60 ml bruinsuiker

Verhit die oond tot 180 °C. Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die uie en knoffel by en roerbraai 3–5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg al die speserye by en braai nog 1 minuut. Plaas die maalvleis in ’n groot mengbak en voeg die uiemengsel en tamaties daarby. Geur goed met sout en peper. Meng. Skep in ’n geskikte oondbak sodat die mengsel so 3 cm hoog is. Druk die lourierblare in die vleis. Meng die melk en eiers saam en gooi oor die mengsel. Plaas in die oond en bak 30–35 minute of tot goudbruin en gaar. Terwyl die bobotie bak, plaas die perskes op ’n bakplaat met die gesnyde kant na bo. Sprinkel die suiker oor en bak saam met die bobotie tot goudbruin. Sit voor.

WENK: Vir iets vars saam met die bobotie kan jy uie en tamaties in dun skyfies sny. Gooi ’n bietjie olyfolie, witwynasyn en sout en peper oor, en besprinkel met fyngekapte rooi brandrissies.