Bloubessietert

Foto: Donna Lewis


Die maklikste tert wat jy ooit sal maak: papierdun lae blaardeeg met lepels vol vetvrye roomkaas. Jy kan dit maar ’n kaaskoek noem wat sy lyf tert hou.

Genoeg vir 6 persone

1 x 400 g-rol blaardeeg, ontdooi
25 g (45 ml) versiersuiker
1 x 250 ml-houer laevet- roomkaas
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
40 g (45 ml) strooisuiker
30 ml heuning (dis mos die natuur se gesonde suiker!)
200 g bloubessies
175 g frambose (raspberries)

Verhit die oond tot 180 °C. Sny die blaardeeg in ’n vierkant van 30 x 30 cm. Plaas op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer en goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Sny die afgesnyde deegreste in 1 cm breë repe en vorm daarmee ’n randjie reg rondom die buiterand van die deegvierkant – dit gaan hoër rys en die vulsel binne hou. Sif die versiersuiker oor en prik die boom. Bak 15–20 minute of tot goudbruin en bros.

Terwyl die deeg bak, maak die vulsel: Meng die roomkaas, vanieljesaadjies, strooisuiker en heuning saam. Skep in die afgekoelde kors en strooi die bessies oor. Sit voor.

WENK: Jy kan die blaardeeg met fillodeeg vervang. Sny so 8 fillovelle in vierkante en verf ’n bietjie kanola-olie tussen die lae. Stapel bo-op mekaar en bak 8–12 minute of tot goudbruin en bros.