Foto: Donna Lewis
My grootwordjare in Upington was van die beste tye wat ek kan onthou: Sondae is daar groot gekook en lank gekuier saam met almal wat wou kom aansit. Daar was geen Sondagfees waar my ma se befaamde blom- kool-en-witsous nie sy verskyning gemaak het nie. Haar kinkel: brosgebraaide spek en parmesaankaas in die sous om dit ekstra smaak te gee. En natuurlik is geen blomkool volmaak sonder ’n bietjie fyn neutmuskaat.
Genoeg vir 6
45 ml olyfolie
200 g spekblokkies
2 knoffelhuisies, fyngekap
55 g (60 ml) botter
35 g (60 ml) meel
660 ml melk
100 g parmesaankaas, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper
2 blomkoolkoppe (nie te groot nie)
10 ml fyn neutmuskaat
Verwarm die olyfolie in ’n groot pot. Voeg die spek en knoffel by. Roerbraai 5–8 minute of tot die spek lekker brosbruin is en skep uit. Verwarm die botter in dieselfde pot en voeg die meel by terwyl jy aanhoudend met ’n draadklitser roer. Voeg die melk geleidelik by die roux en bring die mengsel tot kookpunt terwyl jy voortdurend roer. Bly roer dan oor stadige hitte tot ’n dik, romerige sous vorm en die meel gaar is, sowat 8–10 minute. Verwyder van die hitte, voeg die parmesaan by en meng tot glad. Proe, en geur met sout en peper – wees versigtig met die sout omdat parmesaan reeds sout is. Voeg die spek-en-knoffel by en meng deur. Gooi ’n bietjie water in ’n pot (sowat 5 cm hoog) en bring dit tot kookpunt. Voeg die blomkool by en sit die deksel op. Stoom 10–15 minute of tot dit sag maar steeds ferm is. Plaas die koolkoppe op ’n warm opdienbord, gooi die sous oor en besprinkel met neut. Sit voor.