Foto: Donna Lewis
Ja, jy kan sop vir nagereg bedien! Dis lekker lig en die perfekte manier om ’n vinnige afshow-ete mee af te rond! Gebruik goeiegehalte-vonkelwyn – jy wil nie goedkoop voor jou vriende lyk nie, veral nie as jy fênsie wil kook nie.
Genoeg vir 6 persone
105 g (125 ml) strooisuiker 2 steranyspeule
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
60 ml water
400 g gemengde bevrore bessies
1 liter sorbet van jou keuse
200 g vars aarbeie, gehalveer
1 x 750 ml-bottel yskoue vonkelwyn
Plaas die suiker, steranys en vanieljepeul en -saadjies saam met die water in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt en verwyder van die hitte. Haal die steranys uit die stroop en gooi weg. Plaas die bevrore bessies saam met die warm suikerstroop in ’n voedselverwerker en puree dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Verdeel tussen 6 sopborde van jou keuse. Skep balle sorbet in elke bord en verdeel die aarbeie tussen die porsies. Neem tafel toe en gooi ’n klein bietjie vonkelwyn in elke gas se bord soos jy dit neersit – almal sal dink jy’s die beste!